JOIN OUR MAILING LIST
News


2011-06-07
Internet-koop raak foonvriendelik


 Jun 05 2011 05:00

Letitia Watson, Rapport
'n Heel nuwe generasie van internetgebruikers is in wording en hulle bring ’n heel nuwe dimensie na inkopies op die internet.

Gevolglik sal die verskaffers van dienste en produkte op die internet hul aanbod selfoonvriendeliker moet maak.

Dié generasie word die mobiele-internetgenerasie (mobile-only internet generation) genoem en of hulle 20 of 50 jaar oud is, hulle word daaraan gekenmerk dat hulle die internet net deur mobiele toestelle soos selfone besoek en selde of ooit deur ’n lessenaar- of skootrekenaar.

Mnr. Gary Novitzkas, uitvoerende hoof van kalahari.net, sê dié generasie brei uit namate slimfone ál meer deel van die hoofstroommark word.

Navorsing van On Device Research toon ook dat 57% van Suid-Afrikaners wat die web besoek, dit slegs deur hul selfone doen. First National Bank se mobiele-navorsingsverslag wat in Februarie uitgereik is, gee ’n konserwatiewe skatting van 6 miljoen mobiele-internetbesoekers.

“Die aantal mense wat die mobiele internet besoek, styg met rasse skrede. Besoeke aan die internet deur ’n selfoon sal waarskynlik in minder as vyf jaar dié van rekenaarbesoeke oorskry. In ontwikkelende lande soos Suid-Afrika is daar vyf selfoongebruikers vir elke twee rekenaar-internetgebruikers – vir baie mense is die mobiele skerm die enigste een wat hulle het,” sê Novitzkas.

kalahari.net het pas navorsing onder 6 200 internetgebruikers gedoen. Novitzkas sê die resultate dui daarop dat Suid-Afrika op die rand van ’n mobiele-handelsrevolusie is. Dit wys onder meer dat 51% van dié gebruikers elke dag deur hul selfoon die web besoek – of dit nou is vir bankdienste is of om na die weer, sport of nuus te kyk.

Volgens ’n kwart van die deelnemers het hulle reeds iets op die internet deur hul selfoon gekoop en meer as die helfte oorweeg dit. Die gewildste inkopies blyk vliegkaartjies, 

lugtyd, boeke, CD’s, DVD’s, musiek en speletjies te wees, terwyl kruideniers- en elektroniese ware ook aangekoop word. Bykans 90% sê hulle beskou die mobiele web as veilig.

Die gevolg is dat aanlyn handelaars hul platforms moet aanpas om selfoonvriendelik te wees. Novitzkas sê die soek-gerief is uiters belangrik op mobi-ruimtes, want dis onmoontlik om ’n totale inkopie-aanbod op ’n foonskerm in te pas. “Die soek-gerief bepaal die gebruiker se interaksie met die mobi-ruimte – hulle moet net een skerm weg wees van dit wat hulle op enige gegewe tydstip soek.”

Onder die deelnemers aan die oorsig was MTN (43%) die gewildste diensverskaffer, maar net ’n kortkop voor Vodacom (42%). Cell C was heelwat laer in die derde plek(13%), gevolg deur Virgin Mobile (2%) en 8.ta (0,4%).

Voorts was Nokia (38%) die voorkeur-foonhandelsnaam, gevolg deur BlackBerry (31%), Samsung (12%), ­iPhone (8%) en Sony Ericsson (5%).

Back Back to top
 
 
Close